Lynnwood Gemeente

Lynnwood Gemeente

Daar was drie mense wat op soek was na die water wat lewe gee, in die hoop dat hulle daarvan kon drink en vir ewig lewe.

Die eerste was 'n kryger. Hy was oortuig dat die water wat lewe gee 'n kragtige, bruisende massa of stroomversnelling sal wees. Daarom het hy sy reis in sy volle wapenrusting aangepak. Hy was seker dat hy die water met geweld aan sy wil sou kon onderwerp.

Die tweede was 'n towenares. Sy was van mening dat die water wat lewe gee 'n magiese manifestasie sal wees – dalk 'n maalkolk of spuitfontein of ander vreemde verskynsel – iets wat sy met haar towerspreuke sou kon beheer. Daarom het sy op reis gegaan met haar mees indrukwekkende, kragtigste towerkleed en staf waarmee sy die natuurmagte kon beheer.

Die derde was 'n handelaar. Hy het gereken die water wat lewe gee sou uiters duur wees. Dalk 'n fontein wat borrel met pêrels of diamante. Daarom het hy etlike lae klere aangetrek en elke sak van sy klere vol goue munte gepak, in die hoop dat hy soveel as moontlik van die water vir homself sal kan toeëien.

Toe die reisigers uiteindelik na baie onbekende paaie deur onherbergsame plekke die water van lewe vind, sou hulle egter ontdek dat hulle al drie dit heeltemal verkeerd gehad het. Dit was nie 'n bruisende massa waarmee jy kon veg nie. Dit was nie 'n maalkolk wat jy met magiese spreuke kon betower nie. Dit was ook nie 'n fontein borrelend van skatte wat jy met geld kon koop nie. Dit was 'n smal, skitterende, standhoudende stroompie in 'n woud, waarvan jy verniet en sonder indrukwekkende pogings, soveel kon drink as wat jy wou. Die enigste twee vereistes was dat jy dit nie vir jouself kon toeëien nie, aangesien dit vir almal was; en dat jy dit nie kon opskep nie, maar op jou knieë en onderstebo moes gaan staan om daarvan te drink.

Dit het konsternasie onder die drie reisigers veroorsaak. Die kryger, in sy volle wapenrusting, kon nie buk of buig nie, en boonop kon hy nie sien hoe hy homself so weerloos kon maak nie. Die towenares se towerkleed kon onder geen omstandighede nat word nie, want dit sou daar en dan sy magiese krag verloor. Die handelaar was so belaai met geld, dat as hy sy kop sou buig sy lae klere sou bars en geld oral rondrol.

Daar staan hulle toe, ten aanskoue van die stroom met die water wat lewe gee, maar hulle kon nie kniel om daarvan te drink nie. Daar was maar een oplossing. Die kryger moes homself kwesbaar maak en sy wapenrusting neerlê. Die towenares moes haarself van enige mag ontdaan en haar towerkleed uittrek. Die handelaar moes die risiko waag om sy lae klere uit te trek en die geld, wat hier nutteloos was, onder 'n boom neer te sit. Toe eers kon hulle almal – gestroop en weerloos, met niks om aan te bied nie – kniel om van die water wat lewe gee te drink.

Ek  wonder: As ek die vierde reisiger was – hoe sou ek gelyk het? En sou daar iets wees wat my sou verhoed het om van die water wat lewe gee te drink? En jy? Is daar iets wat jou sou verhoed het om uit die smal stroompie te drink?

Mag jy in 2016 opnuut bewus wees van die lewe wat Christus met sy koms vir jou gee.

Groete

Fay van Eeden
(namens die predikantespan. Met dank aan Marina Strydom wat vir my die legende vertel het.)

Views: 128

Voeg Kommentaar By

Jy moet 'n lid wees van Lynnwood Gemeente om kommentaar te lewer!

© 2020   Created by NGL Admin.   Powered by

Promosies  |  Report an Issue  |  Terms of Service