Lynnwood Gemeente

Lynnwood Gemeente

Christene beoefen al vir duisende jare die geestelike dissipline van vas. Om te vas is een van die maniere waarop jy bewus kan word van God se teenwoordigheid. Tony Jones skryf: “To fast shows our relaince upon God for all things”. Wêreldwyd vas gelowiges tydens Lydenstyd (die ses weke periode tussen Aswoensdag [13 Februarie] en Paasfees). Jy hoef natuurlik nie net van kos te vas nie. Daar is verskeie ander kreatiewe maniere van vas. Lees gerus deur ons lys van 10 moontlike maniere van vas en vra die Here om vir jou te wys watter een sal jou verhouding met Hom versterk.

MEDIA-VAS Hoekom oorweeg jy nie ‘n vas van jou interaksie met media nie? Jy kan dalk van die web, of miskien net van Facebook of Twitter vas. Of miskien wil jy vir Lydenstyd van die televisie vas? Of dalk van seker blogs of sites wat jy dalk te gereeld besoek.

MENS-VAS Sommige mense ontrek hulle van mense geheel en al tydens Lydenstyd. In hierdie tyd fokus hulle op stilte, gebed, nadenke en studie. Vir meeste van ons is dit nie moontlik nie – maar daar is ander manier om van mense te vas. Oorweeg om tydens Lydenstyd minder sosiale geleenthede by te woon. Gebruik hierdie tyd om bewus te word van God se teenwoordigheid in stilte.

GELD-VAS Lydenstyd is ‘n goeie tyd om na te dink oor jou verhouding tot materiële goed, veral geld. Vas van geld deur net te leef op dit wat jy nodig het. Betaal jou rekeninge en koop genoeg kos vir die tydperk, maar gaan sonder die onnodige goed die luxuries). Die kans is goed dat jy geskok sal wees oor hoeveel jy op die manier spaar. Met Paasfees mag jy dalk ‘n paar los rande hê – dink en bid oor wat jy daarmee gaan maak. Miskien kan jy dit weggee vir iemand in nood of miskien ‘n nuwe finansiële commitment maak. Miskien herdefinieer hierdie vas jou verhouding tot geld.

VOEDSEL-VAS Kies ‘n maaltyd, byvoorbeeld middagete, waarvan jy gaan vas. Spandeer dan die tyd saam met God. Inplaas van saam met jou vriende of kollegas eet – stap om die blok en bid. Ry ‘n entjie en mediteer oor ‘n skrifgedeelte. Om te vas is nie maklik nie, maar jy mag net dalk vind dat hierdie van jou aangenaamste middagetes ooit is.

OEFENING-VAS As jy ‘verslaaf’ is aan oefening is dit dalk tyd om daardie deel van jou lewe te ondersoek deur daarvan te vas. Dit beteken nie dat jy nou van ‘n ‘gym-bunny’ na ‘n ‘couch-potato’ moet verander nie. Gaan stap lang ente en spandeer die tyd saam met die Here. Gebruik die tyd om ook te reflekteer oor jy verhouding tot ons moderne oefenkultuur.

LEES-VAS Ons neem elke dag so baie inligting in – baie daarvan is geskrewe inligting. Dit is nie noodwendig sleg nie, maar wanneer laas het jy jou gedagtes net laat rus? Wanneer laas het jy gekies om oor idees na te dink wat jy reeds het/weet, inplaas daarvan om heeltyd op nuwe idees (waarvan jy daagliks lees) te reageer. ‘n Lees-vas is baie soos ‘n media-vas, maar ‘n bietjie meer intens. Bly weg van epos en onnodige leesstof (dit beteken nie skoolwerk nie). Gee jou gedagtes vir die Here. Laat jou gedagtes rus en ervaar in die stilte Sy vrede.

JUNK-VAS Iemand het iewers geskryf: “Fasting is not about stopping something bad. It’s about sacrificing something good so that you can draw near to God.” Oorweeg om die hoeveelheid rommel wat jy weekliks weggooi te verminder deur meer bewus te word van dit wat jy gebruik en weggooi. Vas van vermorsing, begin hersirkuleer en leef in dankbaarheid vir dit wat jy elke dag kan geniet. Dink in die tyd na oor jou verhouding tot die Skepper en skepping.

‘ONNODIGE KOMMUNIKASIE’-VAS Oorweeg om in hierdie Lydenstyd van onnodige kommunikasie te vas. Kies om nie op jou telefoon te praat of te sms terwyl jy met iets anders besig is nie. Los jou foon in jou sak of handsak terwyl jy bestuur of op die Gautrain ry. Moenie op jou telefoon praat of tik omdat jy niks anders het om te doen nie. Gebruik daardie tyd om te oefen om van God en jouself bewus te wees.

MULTITASKING-VAS Mense debateer al vir ‘n paar jaar oor multitasking - is dit goed of sleg? Een ding is waar – ons multitask vandag meer as ooit! Vas van multitasking deur jouself net toe te laat om EEN DING OP ‘N SLAG TE DOEN. Onthou die idee is nie om iets wat sleg is te los nie – want multitasking kan dalk soms nodig of goed wees vir jou. Die idee is om jou tydsgebruik, en die goed wat ons gemaak het om vir ons ‘meer’ tyd te gee, vir God te gee. Gee vir die Here jou tyd deur net een ding op ‘n slag te doen, en doen daardie ding met alles wat jy is en met al jou krag en energie.

Hierdie is net ‘n paar voorstelle. Daar is natuurlik baie ander goed waarvan ‘n mens kan vas. Neem ‘n tydjie en word stil by die Here oor Lydenstyd. Waarvan jy ookal vas - mag dit vir jou ‘n wonderlike en verrykende ervaring wees.

Views: 470

Voeg Kommentaar By

Jy moet 'n lid wees van Lynnwood Gemeente om kommentaar te lewer!

© 2018   Created by NGL Admin.   Powered by

Promosies  |  Report an Issue  |  Terms of Service