Lynnwood Gemeente

Lynnwood Gemeente

Dit lyk of besighede al vroeër en vroeër begin om hulle Kersversierings op te sit. Aan die einde van September was daar al 'n paar kettingwinkels wat versier is met rooi, groen en wit. Liggies flikker al sedert Oktober by die groot winkelsentra.

Meestal reageer gelowiges afwysend teenoor dié tendens. Natuurlik is een van die redes dat mense aanvoel dat baie besighede Kersfees misbruik om meer geld te maak en dat hulle die ware betekenis daarvan ignoreer.

Die gevolg is dat baie gelowiges die viering van Kerstyd net reserveer vir 25 Desember. As daar 'n konsert vroeër die jaar plaasvind met 'n Kersfeestema, voel dit uit plek uit. Sommige voel selfs skuldig asof mens nie veronderstel is om so vroeg al Kersfees te vier nie. Die liggies, Kersboom en versierings word kort voor Kerstyd opgesit. Wanneer die Kersversierings 'n paar dae na Kerstyd nog op is, voel mense skuldig.

Eintlik is dit baie jammer dat dit die toedrag van sake is, want Kerstyd se boodskap moet heeljaar gevier word. Die kruis se boodskap is tog nie net van waarde op Goeie Vrydag nie! Kersfees se Goeie Tyding van groot blydskap geld nie net vir Kersdag nie. Al die diep waarhede is waar vir elke dag van jou lewe.

Die Goeie Nuus dat Jesus gebore is, is nie net nuus om op Kersdag te vier nie. Jesus het aarde toe gekom in die liggaam van 'n doodgewone mens sodat jou doodgewone daaglikse lewe nuut kan word. Die vrede, verlossing en groot blydskap van die Kerstydboodskap is nie net vir Kerstyd beskore nie.

Dink net as jy elke dag met dié Goeie Tyding kan leef! Hoe sal dit wees as jy elke dag wakker word met Kersfees in jou hart? Dan sal jou dag gevul wees met die bewussyn dat God in Christus naby gekom het. Hy sal jou bron van vreugde en vrede wees regdeur jou dag.

Wanneer jy voel hoe die duisternis in jou lewe insluip, steek 'n kers aan of brand jou Kersliggies! Onthou dat die Ware Lig, wat elke mens verlig, na die aarde gekom het om die duisternis te verdryf. Lees weer die Kersverhaal, al is dit in Julie-maand.

Daar sal dae in die jaar wees waar jy nie vrede ervaar nie, hoor dan weer die Engele se lied en sing jou Kersliedere. Speel jou Kersfeesmusiek heeljaar lank. Laat die vrede van Kersfees deur jou vloei, sodat God se vrede op aarde elke dag waar kan wees in jou lewe.

As jy voel hoe die vreugde uit jou lewe gesteel word, kom weer na die krip waar Jesus jou verras met die Grootste Geskenk denkbaar: Homself. Gaan dan die dag tegemoet en deel jou gawes oorvloedig as geskenke vir almal.

As jy die Kersversierings orals sien blink, laat die Goeie Tyding deur jou hart flits. Die boodskap van Lukas 2 is vir alle tye en alle mense; vir elke dag. Vier Kersfees vandag, more, tot en met Kersfees, en hou dan aan regdeur 2016!

 

Geseënde Kersfees in November!

 

T-Tyd:

 

Dink na oor simbole wat jou sal herinner aan die Blye Boodskap van die Kersverhaal. Oorweeg gerus om sommer nou al daardie simbole iewers te plaas en vier dit daagliks.

Probeer om telkens waar jy Kersliggies of versierings sien na te dink oor die betekenis wat die Kersboodskap vir jou inhou. Laat elke huis, kantoor of winkel wat versier is 'n ligpunt word wat jou herinner dié LIG!

Views: 1115

Tags: Predikante

Voeg Kommentaar By

Jy moet 'n lid wees van Lynnwood Gemeente om kommentaar te lewer!

© 2020   Created by NGL Admin.   Powered by

Promosies  |  Report an Issue  |  Terms of Service