Liewe lidmate

 

Veral die Duitse motors is bekend vir opsionele ekstras.  Wanneer mens dus 'n nuwe motor koop, is die basiese prys bereken sonder 'n hele klompie items wat baie kopers graag in hulle nuwe aankope sou wou sien.  Die beginprys sal byvoorbeeld R 400 000,00 beloop, maar vir die satelietnavigasie en elektroniese stabiliteitsprogram moet mens ekstra betaal.  In baie Japanese en Koreaanse voertuie is dit deel van die standaardtoerusting.

 

Om met opgewondenheid na ons gemeente en kerk te kyk, is vir sommige lidmate ook 'n opsionele ekstra.  Wat verkeerd is en wat nie binne hulle smaak val nie, word maklik bespreek en nog makliker afgeskryf.  Natuurlik het ons gemeente en die NG Kerk probleme en foute, maar dis nie al nie.  Daar is 'n hele krat vol sake om oor te glimlag en selfs 'n paar sake om oor opgewonde te huppel!  Dink net aan die groot hoeveelheid lidmate wat verantwoordelikheid aanvaar vir dienslewering in ons gemeente of gemeenskap.  Net vanoggend hoor ek van twee tieners wat vroeg volgende jaar belydenis gaan doen en terselfdertyd wil begin junior kategese gee.  Dis mos nou sjampanje-nuus!

 

Helaas gaan daar in elke gemeente 'n kritiese koor wees.  Hierdie koor word begelei deur 'n kranige kantor wie se selfopgelegde taak die aanspreek van egte en denkbeeldige probleme is.  Persoonlike voorkeure raak die norm en daar is skaars asemhaal-ruimte vir ander mense.

 

Ag nee!  Laat staan tog die geween en gekners van tande.  Vier God se liefde en deernis vir mense en laat hierdie viering 'n saak vir die groep wees.  Sien die mooi blomme en groet jou buurman vriendelik.  Vertel oral van die mooi musiek wat jy in 'n erediens gehoor het.  Vier opgewonde jou Christenskap in die gemeente en gemeenskap.

 

Opgewonde liefde en groete,  Peet Crous

Views: 96

Tags: predikante

Voeg Kommentaar By

Jy moet 'n lid wees van Lynnwood Gemeente om kommentaar te lewer!

© 2021   Created by NGL Admin.   Powered by

Promosies  |  Report an Issue  |  Terms of Service