Perfeksionisme klink na ’n goeie eienskap, maar dit kan keer dat jy jou drome waar maak. Party mense is so bang om te waag of om foute te begaan dat hulle liewers nie probeer nie. Hulle verkies om eerder niks te doen nie as om mislukking te beleef. Dit is een van die grootste redes waarom mense weier om voor ander te praat, want hulle is bang hulle gaan voor almal ‘n fout begaan.

Ander is darem bereid om te probeer, maar hulle stel sulke hoë standaarde aan hulself dat hulle eie werk nooit goed genoeg is nie. Jy het seker al ‘n kind of skrywer met hope opgefrommelde papiere gesien waarmee hulle nie tevrede is nie. Perfeksionisme pootjie hulle.

Tydens Sondagoggend 18 September se preek het ons nagedink oor onvolmaakte heelheid. Paulus ontken nie sy swakhede nie, maar glo dat God se krag alles oortref (2 Kor 4:7). Later in die boek bevestig hy selfs dat sy swakpunte sterkpunte word: “as ek swak is, is ek sterk!” 2 Kor 12:10. Leer meer op http://www.nglynnwood.co.za/group/eredienste/page/preke-teks

Jelle Hermus is ‘n Nederlandse lewensafrigter wat in sy praktyk beleef dat perfeksionisme baie keer mense meer benadeel as bevoordeel. Hieronder is ‘n paar gedagtes om te oorweeg:

1 Perfeksie bestaan nie. Die wêreld is nie perfek nie. Dinge loop somtyds verkeerd. Almal maak foute. Iemand het op ‘n dag gesê: "A saint is someone whose life has not been sufficiently researched." Ons doel is nie om alles in die wêreld perfek te beheer nie, maar om anders met ons foute en verwagtings om te gaan!

2 Jy is nie net wat jy doen nie. Baie mense heg hulle eiewaarde eerder aan wat hulle doen as wie hulle is! As jy dan misluk, is jy ‘n mislukking. Jou waarde lê egter dieper, in God en jou diepste wese.

3 Stop met alles-of-niks denke. Sommige mense sal net iets doen as hulle dit perfek kan doen. Is dit nie goed genoeg om soms juis foute te begaan en daaruit te leer nie?

4 Leef as optimalis. Lees weer die woord; nie optimis nie, maar optimalis! Fokus eerder op groei en optimaliteit as op perfeksionisme.

Uitnemendheid is iets anders. Om alles na die beste van jou vermoë te doen asof jy dit vir God self doen, is iets anders. Dit gaan nie oor perfeksionisme nie, maar oor totale oorgawe. Alle eer word aan God alleen toegesê!

Views: 289

Tags: Predikante

Voeg Kommentaar By

Jy moet 'n lid wees van Lynnwood Gemeente om kommentaar te lewer!

© 2021   Created by NGL Admin.   Powered by

Promosies  |  Report an Issue  |  Terms of Service