Kom ons stem!

 

“Kom ons stem.”  Dit is nogal iets wat mens hoor by moeilike vergaderings en selfs tydens gesprekke rondom keuse van kos tydens ’n familie vakansie wanneer ons sukkel om met gesprek tot ’n vergelyk te kom.  Dis nou weer sulke tyd in ons land:  ons gaan stem.  Vroeg in Mei gaan ’n verskeidenheid van mense na hulle stemlokale om hulle keuse uit te oefen deur ’n kruisie te trek.

 

Politiek is ’n vuilspul en na regte behoort die kerk, watter denominasie ook al, hom en haar daaruit te hou.  Op ’n gereelde basis, maar veral in die weke voor ’n verkiesing, is dit ’n moddergooiery van ’n ander wêreld.  Om alles te kroon, staan Suid Afrika redelik in die voorste deel van die korrupsie-ry en word dit wyd en syd bespreek.  Net op grond van hierdie onderduimse spul behoort die kerk ver van enige politiek te staan.  Moet ons?

Akkoord as dit gaan oor party-politiek, maar of ons dit wil erken al dan nie, dit raak almal se lewens op ’n manier.  Wanneer kerke hulle deure oopstel (selfs net subtiel) vir ’n bepaalde politieke party en daar word op ’n Sondag skaamteloos oor en weer gekuier, beweeg mens op dun ys.  Aan die ander kant het ons ’n wonderlike geleentheid om vrylik aan ons land se verkiesing deel te neem.

 

Miskien is dit nog so dat baie mense wie se huistaal Afrikaans is, voel dat ons nie meer ’n inset te lewer het nie; ons taal en denkwyse is in die minderheid.  Baie mense het ’n verlies-gevoel;  verlies aan mag. Daarom voel sommige mense soos die “underdog”.  Voeg daarby dat my as enkeling se stem statisties geen verskil kan maak nie; wie wen en verloor en wie hulle werksetiek verander is nie van my as enkeling se stem afhanklik nie.

 

Tog ... ten spyte van ’n klomp sake wat genoem kan word in die rigting van stemweerhouding, hoor ons die teks wat daarvan praat dat ons die sout van die aarde is.  Sout het klomp (klein) stukke wat ’n verskil maak.  Sout is ’n onbeskaamde smaakgewer; hier in ons eie gebied.  Daarom ’n aanmoediging:  stem in Mei 2014.  Meer nog: bid en werk saam om ons land ’n plek te maak waar God se liefde seëvier.  Die Heilige Gees stel ons daartoe in staat.

Views: 83

Tags: Predikante

Voeg Kommentaar By

Jy moet 'n lid wees van Lynnwood Gemeente om kommentaar te lewer!

© 2021   Created by NGL Admin.   Powered by

Promosies  |  Report an Issue  |  Terms of Service