Liewe Vriende,

Nogal baie mense hou nie van die getal 13 nie. Veral nie as dit boonop op 'n Vrydag val nie! Dán hoor jy snaakse stories van hoe dié bygeloof maak dat mense hulleself die betrokke dag "beskerm."

Die 13e Oktober beteken vir 33 myners van Chile, LEWE, nuwe lewe. Vir hulle, hulle families, almal daarby betrokke en ook vir miljoene wat wêreldwyd na die reddingspoging gekyk het.

Die tonele wat hul afgespeel het met elke myner wat na die oppervlakte gebring is, die hereniging met familie, die mynwerkers se dankbaarheid, hul woorde, reaksies, die woorde van kommentators en die emosies en gedagtes wat dit by ons wakkergemaak het, is iets wat ons nie sommer sal vergeet nie.

'n Kaleidoskoop van gedagtes het deur my gegaan. Oor elkeen sou mens baie kon sê, maar hier is net 'n paar:
Een kommentator gebruik die woord "rebirth". Wedergeboorte. Dis omtrent wat dit is. Nuwe lewe. 'n Kans op 'n nuwe lewe, vir die myner en sy familie.
En as die President sê dat die myners uit die "bowel" van die berg opgebring is, dan word dit in my gedagte 'n geboortekanaal van meer as 600 meter, na die lewe toe!

Donker en lig se betekenis. Vanuit die duister na die lig toe. Van dood na lewe toe. Eg Bybelse beelde, wat my laat dink het aan wat Petrus gesê het: "julle is geroep uit die duisternis na die wonderbare lig toe" (1 Petrus 2:9). In die lig kan ek weer ander raaksien, in donkerte verloor mense mekaar net. Lig bring net soveel nuwe moontlikhede ...

Geloof het 'n reuse rol gespeel ... Die 2e myner se woorde dat daar 'n stryd daaronder was om sy lewe tussen die Here en die duiwel, maar dat dit die Here was wat hom bly vashou het, het my laat besef hoe intens hulle stryd daaronder was. Hoe groot hul dankbaarheid was, is vasgebeeld in die wat gekniel en gebid het, selfs voor daar gegroet is!

'n Laaste gedagte vir nou: toe hulle na 17 dae "raakgeboor" is en 'n boodskap na boontoe kon kry, hulle op deurlopende basis kon kontak hê met die reddingswerkers en familie, het HOOP opgevlam, onblusbaar. En is die hoop aangevuur deur gereelde kontak, kommunikasie. Ondergronds en bogronds. Dis wat "gemeenskap" kan doen. Volhardend 69 dae lank.

Die besef oor wat dit alles vir ons sê in ons alledaagse geloofslewe, is oorweldigend. Jy en ek léwe, is wedergebore, is kinders van die Here. Waardeer ons die lewe in die Here? Waardeer ons doodgewoon net ons léwe, elke dag se lig, sy geleenthede?

Dankbaar? Verseker want ons is begenadig met geloof, hoop en liefde. Lééf ons dit genoeg?

Die getal 13? Nee wat, maak nie saak watter dag van die week nie, dis ook 'n dag van die Here, nog 'n dag vol genade, vol lewe. Geniet dit!

Liefdegroete

Pieter en Daleen

Views: 70

Tags: Predikante

Voeg Kommentaar By

Jy moet 'n lid wees van Lynnwood Gemeente om kommentaar te lewer!

© 2021   Created by NGL Admin.   Powered by

Promosies  |  Report an Issue  |  Terms of Service