Dagsê

Iemand het eenkeer gesê... if you know what you’re looking for, you will never see what you do not expect to find. Op Afrikaans... as jy dink jy weet wat jy wil hê, sal die verrassings in die lewe by jou ongesiens verbygaan.

 

Johannes vertel in sy evangelie hoe jy dit by die meeste mense destyds gekry het wat moes besluit om Jesus se volgelinge / dissipels te wil wees.   Al die mense wat uitein­de­lik Jesus se dis­si­pels geword het, het op ’n ver­ras­sende manier ge­kry wat hul nie eintlik ge­dink het hulle soek nie. Vir elkeen wat kom kyk het en met Jesus te doen kry, hoor jy Hom vra... wat soek jul­leJh 1:34vv of soos dit ook vertaal kan word wie soek jul­le. Jesus wou eintlik hiermee weet... hoe­kom dink jy dat jy eintlik vir God in jou lewe nodig het.

 

Hoe meer mense met hierdie Jesus van Nasaret te doen gekry het, hoe beter het hul Hom leer ken vir wie Hy toe al die tyd was... dit was of hulle siende blind- en horende doofgeit verdwyn het. Dis wat ­eintlik ge­beur met mense wat dit waag om self te kom kyk... hul siening oor Hom verander nie net hier waar hulle persoonlik met Jesus te doen kry nie, maar in die proses ver­ander hul­ siening oor hulself en van mekaar ook.

 

Wat maak elkeen van die mense met hierdie stuk­kie geestelik ervaring wat hulle op­doen in hul ontmoeting met hierdie Jesus... hulle loop vertel dit vir al hul naby­vriende en familie. Maar nêrens lees jy dat een van hulle hier met iemand anders aan die stry raak oor die reg of ver­­keerd van dit wat hul er­vaar het of dat hul allerhande slim ver­duide­likings pro­beer gee oor wat met hul ge­beur het in hul ont­moeting met Jesus nie. Wat doen hulle... ’n heel basies ding – vir elkeeen met wie hul hier­oor ge­praat het, hoor jy hulle sê ... kom kyk self !

 

Jesus se antwoord vir elkeen wat kom kyk het.... jy ken Jakob se droom­storieGen 28... as jy by My bly sal jy ook iets ervaar wat hy daar by Bet-él ervaar het. Trouens jy sal nog beter as Jakob self met God kan praat. As jy by My bly sal jy deur wat Ek doen en sê, nog meer as Ja­kob, God se nabywees in jou lewe ervaar. So het almal in hul up close and personal  kontak met Jesus... vir altyd verander !.

 

Antony de Mello vertel van hierdie ou oom wat gesê het... toe ek jonk was, het ek teen alles gerebel­leer en al­mal gekritiseer oor wie hulle was en probeer doen het... en my gebede was altyd... Here, gee my die energie om die wêreld te kan verander. Toe ek in my middeljare gekom het en besef het dat die helfte van my lewe verby is sonder om enige iets rêrig verander te kon kry, het ek my gebede verander, en gebid: Here, gee my die genade om almal te verander wat direk met my in kontak is. Al is dit dan net my familie en vriende, sal ek tevrede wees. Noudat ek ’n ou man is en my dae hier al minder raak, is daar net een gebed wat ek het... Here, gee my die genade, dat ek mag ver­ander. As ek dit dalk van die begin van my lewe gebid het, sou dit nie nou gevoel het asof ek my eie lewe en so baie ander mense’sn daarmee­saam opgemors het nie.

 

T-tyd bewuswording

Probeer jouself uitvang vir die kere wat jy altyd gedink het jy weet wat om te verwag of waarna om te kyk en te sien hoe blind jy toe al die tyd was vir al die klein en groot verrassings wat elke dag om jou gebeur.

 

Groetnis

Johann Voges

Views: 84

Tags: Predikante

Voeg Kommentaar By

Jy moet 'n lid wees van Lynnwood Gemeente om kommentaar te lewer!

© 2021   Created by NGL Admin.   Powered by

Promosies  |  Report an Issue  |  Terms of Service