Dagsê


Hier so met die begin van die ander helfte van die jaar kom 'n mens agter dat jy al meer getoets raak – nie net in wat jy alles raakgesien kry nie, maar veral in dit wat jy ingesien kry.


Vir al hierdie insienery wat van jou gevra mag word, deel ek sommer so 'n paar Langenhoven wyshede uit sy boek Ons weg deur die wêreld van 1913...


'n Slim man ken al die paaie, maar 'n wyse man ken die regte een.


As die ander man nie die helfte van die pad wil afgee nie, gee jy dan die hele – die een helfte omdat dit jou plig is as sy gelyke, die ander helfte omdat dit jou voorreg is as sy meerdere.


Die verkwistige man eet die vrugte van sy lewe groen op, die inhalige laat hulle sit tot hul vrot is.


Pas op vir die man wat sy oë half toe hou. Dis nie dat hy nie wil uitkyk nie, dis om te keer dat jy nie

inkyk nie.


Hoe min mense sou te veel drink as die hoofpyn in die prop was in plaas van in die boom van die bottel.


Gedra jou net so sinlik onder jou eie mense as onder vreemdes. Jy het hulle respek langer nodig.


Vra die liewe Heer om jou wysheid te gee en jy kan vir die ander dinge taamlik op jouself reken.


Behandel jou meerdere met beleefdheid omdat dit jou plig is; jou gelyke omdat dit jou plesier is en jou

mindere omdat dit jou voorreg is.


Skat jou bekwaamheid te min om mee te spog en jou karakter te hoog om mee te speel. Op die manier sal jy jou selfrespek bewaar en die respek van jou ewemens verseker.


Kleinserigheid is die voorkant van seerkleinigheid.


Groetnis

Johann Voges

Views: 186

Tags: Predikante

Voeg Kommentaar By

Jy moet 'n lid wees van Lynnwood Gemeente om kommentaar te lewer!

© 2021   Created by NGL Admin.   Powered by

Promosies  |  Report an Issue  |  Terms of Service