Dagsê


Hierdie tyd van die jaar met die jakaranda’s in volle blom is dit nie net studente en skoolkinders wat se eksamenskryf-vermoëns getoets raak nie, maar elkeen van ons se eintlike motivering wat ek hierdie jaar mee begin het, raak ook getoets. Trouens oor hoe ek myself sien en hoe ek geprobeer leef kry, wie ek dink ek is of graag wil wees, is op 'n manier altyd aan die eksamenskryf. Die grootste eksamen skryf, is natuurlik hoe ek elke dag nederigheid verstaan. Soos die storie wat vertel word van die predikant wat op 'n weeksdag toe hy die kerk inloop, oorval word met hierdie gevoel van dat hy so ver tekort skiet in wat van hom verwag word en sy gesukkel om nie oor alles wat hy regkry of nie regkry, skuldig te wil voel nie. Hy gaan staan toe daar op die liturgiese ruimte op sy knieë en bid hardop “Here, ek is niks werd nie...niks nie”! Die ouderling wat net agter die liturgiese ruimte in die konsistorie besig was, hoor hoe sy predikant hier binne met die Here praat. Hy loop toe ook in die kerk in en kniel daar langs die dominee en bid...”Here, ek is 'n sondaar. Ek is niks voor U nie”. Intussen het die koster ook die kerk binne gestap gekom en sien die twee daar voor in die kerk op hul knieë. Hy kniel toe sommer net daar waar hy ingekom het en bid hardop... “Here, ek is die grootste sondaar van almal. Voor U is ek niks nie... niks nie”. Toe stamp die ouderling hier voor aan die predikant en fluister... "kyk dan nou, wie dink hy’s ook niks nie”. Ken Blanchard1939 –, bekende Amerikaanse skrywer en bestuurskonsultant, het gesê... nederige mense dink nie minder ván hulleself nie, hulle dink net minder áán hulleself.


John Ruskin1819 – 1900, bekende Engelse digter en kunstenaar het op 'n kol gesê dat... ek glo die grootste toets vir enige mens se grootheid... is sy / haar verstaan van nederigheid. Met nederigheid dan nie as 'n wantroue in jou eie vermoëns en oortuigings nie, maar as 'n duidelike insig in wat jy kan doen en kan weet in vergelyking met wat die res van die wêreld doen en weet. Alle ware groot geeste weet wat hulle kan en nie kan nie. Hulle weet ook meestal dat hulle reg is in hul oortuigings omdat hulle dit van alle kante af goed deurdink het. Maar hulle dink nie baie van hulleself nie, al weet hulle dat hul reg is... en juis dit maak hulle groot.


Groetnis

Johann Voges

Views: 81

Tags: Predikante

Voeg Kommentaar By

Jy moet 'n lid wees van Lynnwood Gemeente om kommentaar te lewer!

© 2021   Created by NGL Admin.   Powered by

Promosies  |  Report an Issue  |  Terms of Service