Liewe Vriende,





Die vol-in-die-blom jakarandas, helder bougainvillas, mooi tuine en alles mooi om ons, het my laat dink aan die verhaal van die twee ernstig siek
omies in die hospitaal.

Hulle het ure aanmekaar gesels oor hulle families, liefde vir die natuur en alles wat vir hul belangrik is. Hulle moes albei plat
lê, maar die een langs die venster is toegelaat om vir ‘n uur per dag regop te
sit. Dan het hy by die venster uitgekyk en alles wat daarbuite gebeur in kleur
en geur vir die ander man beskryf.



Die ander een het elke dag uitgesien na die uurtjies waarin hy ook ‘n
“kykie” na buite kon kry. Die man langs die venster het vertel van verliefde
paartjies wat verbystap, kinders wat speel in die park, eende op die dam en
elke boom en struik se skoonheid tot in die fynste besonderhede beskryf.





Een oggend kom die verpleegster in om hulle te versorg toe sy sien dat die man langs die venster, is die nag stil in sy slaap oorlede. Na sy liggaam
verwyder is, vra die ander man toe of hulle hom nie na die venster toe kan
skuif nie. Dis gedoen. Hy het hom stadig teen die kussings opgebeur om te sien
hoe dit buite lyk. Toe kyk hy vas teen ‘n kaal baksteenmuur!



Hy vertel toe aan die verpleegster dat hy dit nie verstaan nie, want die
ander man het die wonderlikste beskrywings gegee van wat buite aan die gang
was. Sy sê toe dat die man langs die venster was stokblind en dat hy hom seker
maar net wou bemoedig, beter laat voel en droom oor hoe dit daarbuite is.




Daar is ‘n rykdom van geluk vir jou wanneer jy ander probeer gelukkig maak, tenspyte van wat jou omstandighede ook al mag wees. Dis seker die wat die
spreekwoord sê dat ‘n gedeelde smart is ‘n halwe smart, maar geluk wat jy deel
met iemand anders, verdubbel.




Ons het so baie om ons wat ons gelukkig maak, dinge wat geld nie kan koop nie. Elke dag is so ‘n gawe.



Dalk moet ons dit ‘n slag vir iemand anders vertel. So bring jy dalk
hoop of vreugde vir iemand wat dit op daardie tydstip baie nodig het.





Liefdegroete en seënwense.




Pieter en Daleen Oosthuizen





PS. Ek het ‘n paar weke gelede vertel van Pieter de Waal se ondervinding in Intensiewe Sorg. Hy is 20 Oktober in die Hospice oorlede. Kom ons dra
Edelweiss en die familie aan die Here op.

Views: 63

Tags: Predikante

Voeg Kommentaar By

Jy moet 'n lid wees van Lynnwood Gemeente om kommentaar te lewer!

© 2021   Created by NGL Admin.   Powered by

Promosies  |  Report an Issue  |  Terms of Service