Kontak 22 Oktober 2010 Stook jy jou stoomtrein met dinamiet?

Teen hierdie tyd van die jaar stoom die trein van die lewe volstoom voort! Mens sien net rook soos almal hulle enjins probeer stook om net by Desember uit te kom. Daar is so baie wat in twee maande moet gebeur.

Waarmee stook jy jou lewenslokomotief? Watter motief dryf jou om deur hierdie tyd van die jaar te kom?

Party stook hulle lewensvuur met skuldgevoelens, begeertes, vrees, woede of emosionele onttrekking. Lees net weer die lysie stadig deur en dink hoe jy jouself baie keer hierdeur probeer motiveer. Byvoorbeeld; jy druk alles uit jouself omdat jy vrees vir mislukking of verwerping; of jy werk jou dalk oor 'n mik om net iets wat jy begeer te kan bekostig; of dalk dryf woede jou om te doen wat jy doen.

Die probleem van al hierdie motiverings is dat dit korttermyn energie verskaf. Verder lei dit meestal tot destruktiewe gedrag teenoor jouself en ander. Dis soos om jou stoomtrein met dinamiet te stook. Dalk sal dit jou oor die heuwel kry, maar die enjin is verwoes...

Ek nooi jou om te soek na dieper kragte wat gesonder en sterkter is, en heelwat langer hou. Meeste daarvan is in jou of ten minste tot jou beskikking: kreatiwiteit, geleenthede om jou uniekheid te laat blom, om 'n verskil te maak, om kreatief te wees, mense se lewens aan te raak, die koninkryk van God te laat kom, persoonlike groei, moed, visie, skoonheid, humor, hoop, geloof en liefde. Die grootste Bron is egter God self...

Dalk voel jy, jy gaan dalk nie meer "cope" as jy nie meer van jou negatiewe motiverings gebruik nie. Daar is egter groot bevryding om jou werk, verantwoordelikhede, verhoudings en lewenstake te doen vanuit 'n diep geestelike bron as oppervlakkige motiewe.

Moet asb nie net jaag om deur die jaar te kom nie, leef voluit vanuit jou dieper bronne.

Stook jou lewenslokomotief met die diep motief van Goddelike Energie.

Sterkte met die laaste deel van die reis in 2010.

Groete
Immanuel van Tonder

NB NS Die Groot Emmaus Musical is hier! Vrydag 22 en Saterdag 23 Oktober om 19:30. Dit gaan 'n groot belewenis wees. Meer inligting hier: http://www.nglynnwood.co.za/


Views: 180

Tags: Predikante

Voeg Kommentaar By

Jy moet 'n lid wees van Lynnwood Gemeente om kommentaar te lewer!

© 2021   Created by NGL Admin.   Powered by

Promosies  |  Report an Issue  |  Terms of Service