Liewe Vriende,



Geute is gemaak om water op te vang wat van ‘n huis se dak afloop na ‘n veilige afvoer-voor wat die water wegneem van die huis se fondasie af.



Die geute kan egter verstop raak deur blare, dennenaalde klein takkies en ander voorwerpe. As die geute nie gereeld skoongemaak word nie, verstop
die geute en die water dam op in die geute loop teen die muur af of op die
plafonne. Groot skade kan aan die plafonne, mure en fassieborde aangerig word.
Gisteraand se reën het my weer aan die metafoor laat dink.



In ‘n sekere sin is elke gelowige ook ‘n geut, iemand deur wie die genade en liefde van die Here moet vloei. Maar dan ook elke gesin, elke verhouding, elke groep in die gemeente, die hele
gemeente. Ons is almal geute, waardeur die omgee, die geduld, vriendelikheid,
gasvryheid, vergewensgesindheid, al die gawes en vrug van die Gees moet vloei.


Gebeur dit nie, is ons geute verstop met “dennenaalde en blare.”



So ook by ons werkplekke. Elke span by die werk het ook sy eie “geute.”


Spanning in ‘n span is dieselfde as blare en dennenaalde wat ‘n geut verstop. Indien dit nie tydig verwyder word nie, veroorsaak dit groot skade aan die span se funksionering.



Dalk moet ons elkeen onsself afvra: hoe lyk my geut en die ander waarby ek betrokke is by die huis, in die gemeente en by die werk?


· Wat doen ek of doen ek nie, watter gedrag veroorsaak dat die geute verstop en verhoed dat daar gesonde
vloei van “water” plaasvind?


· Wat moet ek “skoonmaak”, verwyder wat kan lei tot skoon
geute?



Dis gewoonlik harde werk en nie maklik nie, veral omdat ek my hand in eie boesem moet steek en ophou skuldiges soek. Gelukkig is dit ook maklik, want die Heilige Gees lei ons in die waarheid en gee die vermoë
om reg te maak.


Liefdegroete en seënwense,


Pieter en Daleen



Views: 147

Tags: Predikante

Voeg Kommentaar By

Jy moet 'n lid wees van Lynnwood Gemeente om kommentaar te lewer!

© 2021   Created by NGL Admin.   Powered by

Promosies  |  Report an Issue  |  Terms of Service