Dis heerlike Lente!  Ek nooi jou uit om eers net tyd te maak vir die T-Tyd waar ons die Bybelteks en Natuurteks gaan lees.  Daarna meer inligting oor die predikant wat beroep is na ons gemeente.   Ten slotte inligting oor ons Lekker Lynnwood Lente Kuier Karnaval!

 

T-Tyd (Teenwoordig Tyd) in Lentetyd

 

Lees  dié paar verse van Ps 19 uit die boodskap vertaling:

3Alles wat Hy gemaak het, vertel hoe belangrik Hy is. Dis of die een dag met die volgende dag praat en die een nag vir die volgende nag fluister. Hulle dra die boodskap van God se eer en grootheid verder en verder oor.

4Maar jy hoor geen geluid nie; hulle praat nie met mensewoorde nie. Hulle boodskap word versprei sonder klanke.

5Daar is nie ’n millimeter van die hemel of die aarde wat nie vertel hoe groot God is nie.  Alles wat Hy gemaak het, ja alles, tot by die verste plekke wat ons kan sien, is vol van sy eer.

 

Noudat jy die Bybelteks gelees het, gaan ons nou die Natuurteks lees.  Voordat jy verder lees, kyk om jou rond en kry enige stukkie van die natuur wat jy vir 'n rukkie kan gebruik om jou aandag op te fokus.  Die beste is om iets soos ‘n blaar, bloeisel, blom of 'n takkie wat uitloop te gaan haal buite.  As jy binnenshuis is, kan jy selfs die hout van die meubelstuk wees wat die aandag van jou fokus kan wees. As jy nie iets kry nie, kyk by die venster uit en fokus op die lug, bome of kyk vir 'n rukke na dié prentjie:

 

Neem die “natuurteks” waar met die bewussyn dat God teenwoordig is.  God se vingermerke is te sien in die Skepping, wat iets van God self sê.  Om die verrassende rykdom in die natuur te ontdek sal jy jouself moet oopmaak, meegee, waag en sensitief wees.  Luister met verwagting na die natuurteks want "daar is nie ’n millimeter van die hemel of die aarde wat nie vertel hoe groot God is nie."  Wees net oop vir die Fluistering van God in die natuur deur kleur, klank, geur en vorm.

 

Ek nooi jou om nou eers net die "natuurteks" te oordink en later 'n paar vrae te oordink... 

 

Wat vertel die stukkie natuur waarop jy gefokus het van God?  

Watse boodskap gee die natuurteks vir jou oor jou lewe? 

Waarheen nooi die geestelike oefening jou?

Hoe kan jy vandag verder anders leef?

Praat met die Skepper van hierdie wonderwêreld.

 

Mag die Boodskap van Lente jou meer as ooit betower! 

(As jy iets besonders in die natuurteks gelees het, stuur dit asb sommer per epos aan ons)

 

**********************************************************************************

Nuwe Leraar vir Lynnwood

 

Dr Eric Scholtz is op 27 Augustus 2012 beroep na die NG Gemeente Lynnwood. Hy is getroud met Michelle met twee kinders Marthinus (22) en Liana(19).  Die 53-jarige Eric is vir vyf-en-twintig jaar een van vier leraars in die NG Gemeente  Driehoek wat oa ook 24/7 roeping as deel van hulle gemeentevisie het.  

Saam met sy werk in die gemeente, het hy ook deeltyds klas gegee in Dogmatiek by die Universiteit van Stellenbosch en by die Universiteit van Pretoria in Praktiese Teologie.  Eric het ook ‘n lang verbintenis met FAMSA Vanderbijlpark waar hy by gesins- en huweliksverryking betrokke was.

Hy kan beskryf word as ‘n kalm, gemaklike, weldeurdagte, deeglike, innoverende  persoon wat goed is met pastoraat, prediking en mentorskap.   Sy belangstelling is die afgelope jare veral in spiritualiteit waarvan die kontemplatiewe en mistieke spiritualiteit hom inspireer.  Ander vaardighede wat hy in ons gemeente kan gebruik is goeie leierskap-, skyf- en toerustingsvaardighede. 

Hy beskryf sy spiritualiteit onder andere met die volgende:  “Ons lewe voor die aangesig van God. Dit beteken dat elkeen vrye toegang onder ‘n oop hemel voor God het.  Ons het nie ander tussengangers (buiten die Middelaar) of bykomstighede nodig nie. Dit gee oneindige gewig en betekenis aan my lewe. God dink vir ewig in genade aan my hele lewe!  God is naby.  Sy nabyheid bring rus, vertroue en sekerheid. Sy andersheid roep eerbied en ontsag, en geloof op.... Daar is plek vir menslikheid by God.  Ook in die kerk.  Ons verhale en ervarings mag ook ruimte kry en gehoor word."

Sy naam word nou vir twee weke afgekondig vir goedkeuring waarna hy dan antwoord op die beroep.  Indien hy die beroep aanneem, kan die datum van bevestiging gefinaliseer word. 

Die preadvies komitee en Kerkraad het in die proses deurentyd ervaar dat die Here ‘n besondere pad met ons geloop het in die uitbring van die beroep.  God bly met ons waar ons ook mag gaan in ons 24/7 Christen-wees.

 

**********************************************************************************

LLKK: Lynnwood Lente Kuier Karnaval

 

Die reëlings vir die Kuierkarnaval Vrydagaand is mooi op dreef.  Daar is 400 etekaartjies verkoop!  Dit gaan ‘n GROOT LEKKER kuier wees.  As jy nie vooraf ‘n etekaartjie gekoop het nie, kan jy darem lekker pannekoek kry en saam kuier.  Kom deel in die koinonia. 

Onthou jou eie stoele of komberse en eetgerei!  Die kuier begin van 17:30 af, maar die kos sal van 19:00 af beskikbaar wees.

Views: 523

Tags: Predikante

Voeg Kommentaar By

Jy moet 'n lid wees van Lynnwood Gemeente om kommentaar te lewer!

© 2022   Created by NGL Admin.   Powered by

Promosies  |  Report an Issue  |  Terms of Service