Dagsê


Die Griekse woordjie (eucharistia) in die Nuwe Testament wat op Afrikaans met dankbaarheid vertaal word, word veral deur Paulus gebruik as die manier waarop ek uitdrukking gee aan my waardering teenoor God. Dis hoekom ons ook die mooiste maand, Oktobermaand, gekies het waarin elkeen van ons iets kan sê / wys van my waardering teenoor God vir... al is dit dan ook net om weer Louis Leipoldt1880 – 1947 se gedig “Oktobermaand” te lees en toe te laat
dat dit jou opnuut waardering laat kry vir mooi van die maand in hierdie land
waarin ons woon.


C. LOUIS LEIPOLDT

Viooltjies in die voorhuis, Viooltjies blou en rooi!

Viooltjies orals op die veld, En orals, ai, so mooi!


Dit is die maand Oktober, die mooiste, mooiste maand:

Dan is die dag so helder so groen is elke aand,

So blou en sonder wolke die hemel heerlik bo,

So blomtuin-vol van kleure die asvaal ou Karoo.


Dit is die maand Oktober: die varkblom is in bloei;

Oor al die seekoegate is kafferskuil gegroei;

Die koppies, kort gelede nog as 'n klip so kaal,

Het nou vir welkomsgroetnis hul mooiste voorgehaal.


Dit is die maand Oktober: die akkerboom is groen;

Die bloekoms langs die paaie is almal nuutgeboen;

En orals in die tuin rond ruik jy sering en roos,

Jasmyn en katjiepiering, lemoen en appelkoos.



Al was die dag soos yster, lank in die vuur gesteek,

Die varings in die klofies deur hitte geel verbleek,

Tog as die son daaronder agter die berge gaan,

Dan word oor heel die wêreld die mooiste geur geslaan.


Dit is die maand Oktober: die kokewiet is uit;

Boomsingertjies en kriekies die hoor jy orals fluit;

Fiskaal is op die oorlog: daaronder by die sluis,

Daar is 'n dor ou doringboom sy spens en sy kombuis,


Dit is die maand Oktober: ek dink, die mense vier

Vir ewig in die hemel Oktobermaand soos hier!

Wat wens jy meer as blomme, as helder dag en nag?

Wat kan jy beter, mooier, of heerliker verwag?

Ek is nog in Oktober: my tuin is nog so groen,

So wit met al wat mooi is, met bloeisels van lemoen,

So pragtig in die môre. so heerlik in die aand!

Ek is nog in Oktober, die mooiste, mooiste maand!


Wat gee ek om die winter? Wat praat jy nou van Mei?

Wat skeel dit, as ons later weer donker dae kry?

Ek is nou in Oktober, die mooiste, mooiste maand,

Met elke dag so helder, so pragtig elke aand!


Viooltjies in die voorhuis, Viooltjies blou en rooi!

Viooltjies orals op die veld, En orals, ai, so mooi!


Groetnis

Johann Voges

Views: 152

Tags: Predikante

Voeg Kommentaar By

Jy moet 'n lid wees van Lynnwood Gemeente om kommentaar te lewer!

© 2021   Created by NGL Admin.   Powered by

Promosies  |  Report an Issue  |  Terms of Service