Bronne van lewensenergie!

 

Daar is sommige dinge wat mens doen wat jou met meer energie laat as ander.  Selfs al het dit baie harde werk van jou gevra, voel jy innerlik verfris en ervaar jy ‘n diep genoegdoening. 

 

Hierdie bronne van lewe verskil van mens tot mens.  Vir sommige mense is tuinmaak die lekkerste lekker wat jy heel dag kan doen.  Jy is dalk fisies moeg na ‘n paar uur in die tuin, maar dit voel of ‘n bruisende fontein diep in jou ontspring het.  Ander mense sal heeltemal uitgeput wees na ‘n dag van frustrasie in die tuin.   Sommige mense moet jy maar net na ‘n winkelsentrum of ‘n skou neem vir ‘n paar uur en hulle is weer vol lewe.  Ek weet egter van mense wat so groot skare mense met alles in hulle wese probeer vermy, omdat dit hulle energie tap.

 

John Ortberg skryf: ‘n Geestelike dissipline is eenvoudig ‘n aktiwiteit waarby jy betrokke raak sodat die Gees van die lewe jou meer lewend kan maak.

 

Die vraag is dus: Wat doen jy wat jou regtig volkome lewend laat voel?  Is dit dalk om ‘n boek te lees, vergadering te hou, ver te stap, met perde te werk, te brei, saam met kinders te speel, kunswerke te geniet, musiek te luister, ‘n projek te beplan en uit te voer, ‘n stuk te skryf, in stilte te wees of te reis?

 

Jy sal dadelik besef dat dit hier oor iets baie persoonlik gaan.  Daar is nie een antwoord wat vir almal geld nie.  Jy moet jouself leer ken en fyn aanvoel wat jou werklik inspireer in die lewe.

 

Ons evalueer baie keer ons geestelike lewe in terme van ‘n lang lys “geestelike” aksies wat veronderstel is om mens “geestelik” te laat groei.  Maar die punt van die geloofsgewoontes is om jou bewus te maak van die Bron van die Lewe wat in jou is, die Gees van die Lewe. Ons word genooi om dieper in te boor op soek na die diep fonteine van lewe wat jou in kontak met die Lewende Water kan bring.  Vra jouself af watter aktiwiteite jou inspireer en jou die lewe dieper laat leef.  Dit gaan nie oor oppervlakkige genot nie, maar diep vervulling.

 

Een van die goeie definisies van sonde is juis: “dit wat die lewe steel”.  Wanneer jy besig is met aksies wat die verbintenis met die Fontein van Lewe afsny, of jou verbintenisse met ander verbreek en die verbintenis met jouself verbreek, is jy besig om “jou lewe te neem”.  Sonde is ‘n vorm van stadige selfmoord soos wat jy jou afsny van die lewensbronne.

 

Ek nooi jou op die reis om te ontdek wat jou fonteine van lewe is.  Oppas dat jy nie net doen wat ander aan jou voorhou nie, maar soek na jou unieke fonteine van lewe.  Toets ‘n paar daarvan uit en maak dit deel van die ritme van jou lewe.  As dit nog jou beroep kan wees, nog beter!  

 

Dit is natuurlik dat die lewe energie uit jou sal tap.  Ons kies ook om energie te spandeer om die koninkryk van God te laat kom waar ons ook al kom.  Om daardie bronne aan te vul is lewensnoodsaaklik.  Die Here bied elke dag bied gulde geleenthede waar ons ons bronne kan aanvul.

 

Julian Muller skryf pragtig oor die rykdom wat in elke dag opgesluit is:

Geloof is om die lewe elke dag opnuut te ontvang,

soos die manna wat die Israeliete in die woestyn gekry het.

Die voorwaarde was dat dit elke dag nuut ontvang moes word

en nie opgegaar mag word nie.

Die lewe is soos 'n vars produk

wat op die oomblik geniet moet word.

Geloof is dan om die lewe

in die hede te ontdek en te ontvang.

 

T-Tyd

 

Maak ‘n lys van dinge in die lewe wat jou energie gee.  Doen dit iets op die lys met ‘n biddende ingesteldheid om daarin iets van God se teenwoordigheid te ervaar.  Wees bewus hoe verkwik jy is na die aktiwiteit. Dank God vir die kanaal van lewe.

 

Kom nou, die Lewe wag!

 

 

 

Views: 391

Tags: Predikante

Voeg Kommentaar By

Jy moet 'n lid wees van Lynnwood Gemeente om kommentaar te lewer!

© 2021   Created by NGL Admin.   Powered by

Promosies  |  Report an Issue  |  Terms of Service