Die bril wat jou die goeie laat sien Die afgelope jaar was elkeen van ons se lewens, te midde van die vreugde en die uitdagings, besaai met ‘n oorvloed gawes. Sommige gawes was duidelik sigbaar terwyl ander gawes daar was sonder dat ons dit eers besef het. As jy na dié video kyk van kinders in die junior kategese en kleuterkerk, sal jy hoor dat hulle meestal dankbaar is oor die sigbare gawes. Een van die voorskooldogtertjies was egter dankbaar vir God se liefde. Met daardie een opmerking het sy ‘n hele wêreld van dankbaarheid oopgesluit.Kyk die video hier.

Om die onsigbare gawes te kan raaksien, het jy ‘n spesiale bril nodig: dankbaarheid. Ons oë word soms so verblind deur ons fokus op die oppervlakkige dinge van die lewe. As jy met ‘n dankbaarheidsbril na jou situasie begin kyk, besef jy skielik dat daar ‘n groot hoeveelheid gawes is wat ons nie met die blote oog sien nie, maar wat met geestelike oë herkenbaar word.

Was jy al dankbaar oor die gawe van die lewe, oor liefde, energie, hoop, genade, vergifnis en vrede? Daar is geestelike waarhede en insigte wat mense vry maak. Daardie vryheid is soveel meer werd as baie besittings. Is jy al aangegryp deur die skoonheid van die natuur, kuns, musiek of ‘n ander mens? Min dinge in die lewe het so groot impak op ons lewe soos liefde tussen familie, vriende en kollegas. Was jy al werklik dankbaar daarvoor?

Ek dink die diepste rede vir dankbaarheid lê in God: God wat almagtig verhewe is bo die oneindige heelal, en God wat intens naby en in ons is. As jy begin insien dat God self die suurstof van jou lewe is, ontspring ‘n ewige fontein van dankbaarheid in jou.

In so ’n geval kan daar dan lang tye kom wat jou gebede basies net vol dankbaarheid en verwondering is. God gee reeds soveel meer as wat ons nodig het. Die Gees weet wat ons behoeftes is en bring dit met versugtinge na die Vader (Rom 8:26).

“If the only prayer you ever said in your life was “thank you” that would suffice.” Meister Eckhart Dit is tyd om dankie te sê en dankie te leef. Verwoord en betoon jou dankbaarheid teenoor die mense om jou en teenoor die Gewer van die Goeie Gawes. Lees gerus die brief aan die gemeente oor ons Dankiemaand.

Dink aan kreatiewe maniere om jou dankbaarheid uit te leef. Oorweeg ook asb om ons gemeente se tientalle bedieninge te ondersteun met ‘n dankoffer. Sondagoggend en –aand gaan ons Dankfees vier by ons eredienste. Kom vier saam!

Mag die fontein van dankbaarheid in jou ontspring en jou voed met hoop, vreugde en vrede!

Immanuel van Tonder (namens die Predikantespan)

Views: 159

Tags: Predikante

Voeg Kommentaar By

Jy moet 'n lid wees van Lynnwood Gemeente om kommentaar te lewer!

© 2021   Created by NGL Admin.   Powered by

Promosies  |  Report an Issue  |  Terms of Service