Liewe vriende,

Hierdie week vier ons die hemelvaart van ons Here Jesus Christus.  Raak mens stil en dink aan die opstanding en alles wat daarna gebeur het, dan kan jy en ek ons verwonder en bid:

Here,

40 dae ná paasfees

dis wat U nodig gehad het

om U opstandingsoorwinning te demonsteer

en die dissipels te bemagtig vir hul taak in die wêreld ...

 

Toe is U weg.

Sou dit uit die oog, uit die hart wees?

Wat sou nou tog met u leierlose volgelinge gebeur?

 

Weg ... en tog het U gesê:

“Ek is met julle al die dae van julle lewe tot aan die voleinding van die wêreld.” Mat 28:20

Paradoksaal.

Weg, tóg hier. Afwesig, tóg by ons.

 

Gelukkig gehoorsaam U volgelinge en gaan wag in Jerusalem op die belofte ...

Toe maak U Gees alles anders ...

vir hulle en ons:

bemagtigde volgelinge,

toegerus vir alles waartoe U ons roep.

 

Dankie Here dat U my ook vertrou met U wêreld.

Ek wag op U leiding.

Gebruik my waar U wil.

 

R Bultman het gesê:

“As die Here werklik opgestaan het, moet hy iewers sigbaar wees.

As hy dus nie in die kerk in jou as gelowige leef nie, waar moet mense hom dan sien?”

 

Net gelowige mense kan hom sigbaar , of  onsigbaar maak.

Net óns kan hom dus vir die wêreld lewend maak of doodmaak! ….


Vir jou T-tyd, die tyd wat jy inruim om bewus te raak dat God by jou is en jy by Hom, dink na oor die gebed, maak dit jou eie deur dit self te bid.


Vriendelike groete en seënwense,


Pieter Oosthuizen

namens die predikantespan

Views: 137

Tags: Predikante

Voeg Kommentaar By

Jy moet 'n lid wees van Lynnwood Gemeente om kommentaar te lewer!

© 2021   Created by NGL Admin.   Powered by

Promosies  |  Report an Issue  |  Terms of Service