Kontak van 15 Desember 2016 - Vader Uber

As seuntjie kon ek nie wag vir Vader Kersfees om te kom kuier nie. My familie het al hulle dae gehad om my gedagtes van die moontlike persente af te lei en daarop te laat fokus om op Oupa-hulle se plaas rond te speel. Later toe ek ’n tiener was, het ek self ’n keer of wat Vader Kersfees gespeel met ’n rooi jas en kunsbaard.

Uber is ’n nuwe vervoerkonsep (kan dit ’n taxi genoem word?). Meer as een keer by skole, koshuise of kerke kry ek tieners wat van Uber gebruik maak. Uber het vir hulle ’n werkwoord, soos “Google”, geword.

Gedurende die afgelope paar weke moes ek gereeld ons twee spruite na en van die universiteit vervoer en my gesin het begin om my Vader Uber te noem. Die afgelope jaar was vir my ’n buitengewone jaar in die sin dat daar ’n klomp ongewone goed gebeur het:

• Vir die eerste keer vandat ek betrokke by UP is, is die hekke in die middel van November gesluit en die polisie se teenwoordigheid is feitlik die norm. Sommige studente blom, maar ander kry swaar. Geen student mag op of naby die kampus parkeer nie;
• In die laaste Suid-Afrikaanse verkiesing het die regerende party ongeveer 10% steun verloor, wat glo die meeste is wat enige party van een verkiesing na die volgende ooit in Suid-Afrika se geskiedenis verloor het (voor en na Apartheid);
• Brittanje kies BREXIT en verloor in die proses hulle premier. Die uitwerking daarvan sal nog bereken moet word;
• In die VSA word Donald Trump tot president verkies teen feitlik alle kredietwaardige voorspellinge in;
• Aardverwarming blyk hier te wees om te bly.

Tydens meer as een van my Vader Uber reise herinner ek myself daaraan dat turbulensie niks nuut is nie: die Romeine, Babiloniërs en Assiriërs het Israel se lewe nie net omgekrap nie, maar in meer as een geval verwoes. Die kruistogte en al die oorloë rondom dit moes miljoene Christene se lewe drasties verander het.

Vandaar Vader Uber se gebed aan die einde van 2016:

Skenk ons ’n helder somer Kersfees in hierdie land o Heer.
Ons weet dis waar dat U aan ons verskyn in die vorm van die lewe,
maar vanaand hunker ek na die fluistering in die windstilte
en minder na al die woelinge om ons.

Skenk ons ’n helder somer Kersfees in hierdie land o Heer.
Ons is deeglik bewus van die Heilige Gees wat in al U kinders werk,
maar vanaand sou ek tog sug: Ons glo Here,
kom ons ongeloof te hulp.

Skenk ons ’n helder somer Kersfees in hierdie land o Heer.
Ons weet U het geskep en bowenal onderhou U ook,
maar vanaand smeek ek: help ons om in harmonie te leef;
met mekaar, met U en met die skepping.

Groete
Peet Crous
(namens die Predikantespan)

Views: 111

Tags: Predikante

Voeg Kommentaar By

Jy moet 'n lid wees van Lynnwood Gemeente om kommentaar te lewer!

© 2021   Created by NGL Admin.   Powered by

Promosies  |  Report an Issue  |  Terms of Service