Kontak van 18 Oktober - Die viering van volgeling wees

Elke maal as ek Jesus se woorde (Johannes 1:43) aan Filippus lees: Volg my!”, kan ek nie anders as om te wonder wat daardie twee woorde alles behels nie. Wat daardie twee woorde vir my lewe beteken? En wat dit regtig beteken om ‘n volgeling van God te wees? Ons vier nou in die kerklike jaar Koninkrykstyd en in ‘n sekere sin is dit die vraag waarmee ons besig is tydens Koninkrykstyd.


Koninkrykstyd breek net na Pinksterfees aan en strek tot net voor Adventstyd (1 Desember). In hierdie seisoen word God se koninklike heerskappy en handelinge in elke faset van ons lewe en in die wêreld gevier.


Epifanie-, Paas- en Pinksterfees het ons herinner aan alles wat God ons skenk en ons het dit gevier. Gedurende Koninkrykstyd sit ons hierdie vierings voort en bely ons dat God nie net Koning is van díe wat in Hom glo nie, maar oor die ganse mensdom en skepping regeer. God is nie net in die kerk by ons betrokke nie, maar Hy is elke dag in ons alledaagse lewe betrokke. God bemagtig en betrek elkeen van ons individueel en gesamentlik as gemeente om sy koninkryk in die wêreld sigbaar en tasbaar te maak. Die koninkryk omvat ons leefwêreld.


Koninkrykstyd wil ons help om kreatief oor Christen- en kerkwees na te dink. Koninkrykstyd skep vir ons die geleentheid om na te dink oor wat dit beteken om saam met die Drie-enige God ons lewensreis te deel en waarvoor Hy ons roep. Koninkrykstyd help ons nie net nadink oor volgeling van God wees nie, maar help ons ook om dit te vier!
Die Sjinese kunstenaar Dr He Qi beeld dit mooi uit in sy skildery Journey with Jesus. Neem ‘n tydjie om die ryke simbole in He Qi se skildery te bedink.

 

Vir jou T-tyd hierdie week

Gebruik Koninkrykstyd om na te dink oor wat dit vir jou beteken om volgeling van God wees. Wat is jou roeping in jou gemeenskap? Hoe kan jy dit in hierdie koninkrykstyd vier?


Groete
Fay

(namens die predikantespan)

Views: 362

Voeg Kommentaar By

Jy moet 'n lid wees van Lynnwood Gemeente om kommentaar te lewer!

© 2021   Created by NGL Admin.   Powered by

Promosies  |  Report an Issue  |  Terms of Service