Dankie!

Dit is hierdie week byna ’n jaar gelede sedert ek op 28 Oktober 2012 in Lynnwoodgemeente bevestig is. ’n Jaar het vinnig verbygegaan! Dit was vir my en Michelle ’n goeie jaar in die gemeente en in ons nuwe woonomgewing. En omdat ons ’n klomp dankbaarheid in ons hart het, wil ek graag vandag dankie sê.

 

Ek is steeds verwonderd oor die manier waarop die beroepingsproses verloop het. Ek onthou nog al die gesigte wat die aand teenwoordig was toe daar met my ’n onderhoud gevoer is. Dit voel vir my asof ek ’n spesiale konneksie met elkeen van julle het. Die hele gebeure laat my enersyds steeds nederig voel en andersyds put ek voortdurend inspirasie daaruit.

 

Dankie vir elke lidmaat wat ons in die loop van die jaar in die gemeente verwelkom het; diegene wat aan die begin vir ons ’n bord kos gebring het, diegene wat kom groet en hulself bekendgestel het, diegene wat ons met groot gasvryheid in hul huise ontvang het en diegene wat gereeld verneem het of ons darem al “gesettle” het.

 

Dankie vir die gemeenteleiers saam met wie ek die afgelope jaar kon saamwerk. Ek beleef by julle ’n êrns en toewyding in jul dienswerk, en groot lojaliteit teenoor die gemeente. Die meeste van julle kom al ’n lang pad saam met die gemeente en jul kennis van die gemeente is vir my as ’n nuweling ’n belangrike bron van inligting. En jul liefde vir die gemeente herinner my daaraan dat ek met iets kosbaar werk.

 

Dankie vir die kerkkantoorpersoneel. Baie jare se ervaring en kundigheid word hier saamgesnoer. Jul vriendelike, deeglike en stiptelike diens aan my en my kollegas en die gemeente is van groot waarde.

 

Dankie aan my kollegas. Dit is vir my ’n voorreg om deel van so ’n veelsydige span te wees. Dankie dat julle sommer van die begin af vir my ruimte in die span gemaak het en my as ’n volwaardige spanlid behandel het. As ek aan julle dink, kom die woord “bemoediging” veral by my op. In jul menswees en optrede ervaar ek bemoediging en slaag julle daarin om by my energie te skep.

 

Dankie vir elkeen wat my die afgelope jaar met die swaarkry in hul lewe vertrou het…

 

Dankie aan God, die Vader van ons almal, wat aan elkeen van ons ’n roeping gee waarmee Hy ons vertrou.

 

T-tyd

Miskien is daar iemand wat die afgelope jaar baie vir jou beteken het. Gebruik die tyd om vir hom of haar te bedank. Maak die oproep. Stuur die e-pos. Gaan drink ’n koppie koffie.

 

Groete

 

Eric Scholtz     

 

Views: 125

Tags: Predikante

Voeg Kommentaar By

Jy moet 'n lid wees van Lynnwood Gemeente om kommentaar te lewer!

© 2021   Created by NGL Admin.   Powered by

Promosies  |  Report an Issue  |  Terms of Service