Kontak van 9 Desember - God, die groot Indringer

Volgens Lukas 1:31 was die engel se woorde aan Maria: “Jy sal swanger word en ’n seun in die wêreld bring, en jy moet Hom die naam Jesus gee.” Die engel Gabriël vra nie vir Maria of dit haar sal pas om die ma van Jesus te word nie. Hy maak nie ’n voorstel aan haar en vra nie vir haar of sy eers ’n bietjie daaroor wil nadink, en of dit met haar eie planne vir haar lewe strook nie. Hy kondig eenvoudig die gebeure aan. Sy kan nie eers die naam van haar kind kies nie. Dít word ook vir haar gegéé.

Die sestiende eeuse kunstenaar, Lorenzo Lotto, het (soos vele ander) die aankondiging van die geboorte geskilder en ’n interessante perspektief daarop gegee. (Sien kunswerk hiernaas.) Die kunswerk beeld nie ’n kalm Maria uit wat rustig na die engel se aankondiging luister nie. Inteendeel, Maria kyk weg van die engel af. Sy is vraend na ons, die kykers, gedraai. “Stel jouself dit voor? Wat sou jy doen as jy in my plek was?,” wil sy van ons weet. Haar handgebare sê sy is ontsteld en onkant betrap. Die engel lyk self ietwat verwilderd. Bokant die engel is ’n grys-bebaarde figuur sigbaar. God! Hy lyk taamlik streng. Hy wys met beide hande na Maria. Die gebaar is duidelik en die betekenis is helder en onontkombaar. In die middel van die toneel is ’n kat met ’n gekromde rug wat verwilderd in ons rigting kyk, op soek na ’n skuiling. Die hele toneel getuig van intensiteit, spanning en verskrikking. God en die engel is duidelik nie daar op uitnodiging nie. Beide is eerder indringers!

Die aankondiging van die geboorte is die oomblik wat Maria ontdek dat God iets in haar en met haar gaan doen. Die verrassende element in al die verhale wat oor die geboorte vertel word, trouens in die hele Bybel, is dat God die Inisiëerder is. Hy dring mense se lewe binne, Hy roep hulle, en Hy gee vir hulle take om te voltooi.

Maria is die enigste mens in die geskiedenis wat hierdie boodskap ontvang het dat sy die ma van Jesus moes wees. Maar ontvang ons nie ook soortgelyke boodskappe nie? Word ons lewe nie ook soms versteur deur ’n “aankondiging” nie? Ons maak baie planne, en skep vir onsself allerlei doelwitte. Ten spyte hiervan, word van die belangrikste gebeure in ons lewe nie deur ons gekies nie, maar word dit ons opgelê. Dit maak dalk sy verskyning in die vorm van ’n werksaanbod, ’n aftrede wat aanbreek, verliefdheid, bejaarde ouers wat ons nodig het, ’n kind met probleme of ’n sterk impuls om ons lewenskoers te verander en iewers ’n bydrae te lewer. Wanneer dit gebeur, voel dit vir ons asof daar ook na ons ’n vinger gewys word om iets te doen, om iets te verander of om iets te verduur ter wille van iemand/Iemand anders. En soos Maria in die skildery van Lorenzo Lotto, ontwrig dit ons lewe, maak dit ons beangs, en laat dit ons wonder wat ons te doen staan. In sulke gevalle het ons twee basiese keusemoontlikhede: om ja te sê vir hierdie nuwe lewe(nstaak) wat aan ons voorgehou word, of om ons daarteen te verset.

Die Amerikaanse psigiater Gerald May sê daar is twee fundamentele lewensoriëntasies. Die een is eiewilligheid. Dit behels die deurlopende poging om ons eie wil op ons lewe en die lewe van diegene om ons af te dwing. Die ander is gewilligheid. Dit kom neer op die begeerte om saam met die diepste strome en ware rigting in ons lewe te beweeg. Die eerste het met beheer te doen; die tweede met die erkenning dat daar ’n dieper lewe in en deur ons beweeg. As die oomblikke aanbreek wat ’n aankondiging oor ons lewe gemaak word, sal ons met eiewilligheid of gewilligheid reageer?

Groete

Eric Scholtz
(Namens die predikantespan)

Views: 121

Tags: Predikante

Voeg Kommentaar By

Jy moet 'n lid wees van Lynnwood Gemeente om kommentaar te lewer!

© 2021   Created by NGL Admin.   Powered by

Promosies  |  Report an Issue  |  Terms of Service