Pelgrimsreis na Binne

Die labirint is ‘n wandelende gebed waarmee ons ons oopstel vir die teenwoordigheid en werking van die Here in ons lewe.

 Kyk gerus die video hier: https://youtu.be/HtB2DXJ_BU4

In die stroom van die lewe, waarin ons almal is, kan jy fokus op die oppervlak van die stroom of die dieper onderstoom. Op die oppervlak sal jy die maalkolke, stroomversnellings en drywende plantmateriaal teëkom. Vir sommige mense neem dié oppervlakkige sake hulle bewussyn volledig oor. Die gevolg daarvan is 'n verlies aan rigting, stabiliteit en geborgenheid. Gebeure in die lewe gooi maklik hulle lewens omver.

Wanneer jy egter die reis na binne onderneem, ontdek jy die onderstoom. Dié onderstoom bepaal eintlik die rigting en gee momentum aan die bewegende stroom. Hierdie diepte-perspektief laat jou anders na die oppervlak se onstuimigheid kyk.

Op die reis na binne is daar veral twee vrae waaraan jy aandag skenk: Wie is ek en Wie is God? Wanneer jy die reis na binne onderneem leer jy jouself beter ken. Daar kom 'n eerlike erkenning van jou diepste drome, wense, gedagtes, emosies en oortuigings. Soms gaan dit met ontnugtering gepaard omdat jy ook besef dat die nie-essensiële dele van jou lewe maar afgelê kan word om die werklike essensie te behou.

Die reis na binne is ook 'n ontdekking van jou diep verbintenis met God. Jy ontdek dat jy deur Hom lewe, beweeg en bestaan (Hand 27:28). Sy Gees se werking en inwoning word die diep onderstoom wat jou lewe dra. Hier vind jy altyd ware vrede en vreugde onafhanklik wat op die oppervlak gebeur!

Die Labirint by die kerkgebou wat Sondag in gebruik geneem word, nooi jou na die reis na binne. Daar is natuurlik velerlei geloofsgewoontes wat ons kan volg om dié reis na binne te onderneem. Maak tyd met jouself en die Here en gee mee aan die Stroom Lewende Water!

 

Views: 217

Tags: Predikante

Voeg Kommentaar By

Jy moet 'n lid wees van Lynnwood Gemeente om kommentaar te lewer!

© 2021   Created by NGL Admin.   Powered by

Promosies  |  Report an Issue  |  Terms of Service