Die hoofkarakter in die boek "Chasing Francis" van I. M. Cron is ’n ontnugterde predikant in die VSA. In sy soeke na God vind daar vervreemding tussen hom en ’n groot deel van sy tuisgemeente plaas. Wanneer hy nie antwoorde het op die ontydige dood van ’n gemeentekind nie, gaan hy Italië toe en reis op die voetspore van Franciscus van Assisi.

Die bagasie wat saam met sy been van die Christendom gaan, maak hom moeg en verward. Bepaalde musiek, taal (antwoorde in die vorm van bybelversies op al toepaslike en ontoepaslike vrae) en literatuur laat hom voel dat geloof "McDonaldized" word. Dis ’n geloof wat merkbaar meer belowe as wat dit lewer. Die agtergrond van Christen "celebs" walg hom.

Dave Tomlinson sou dit waarskynlik beskryf as "post-evangelical" (The Post-Evangelical), p 24. Ons staan nie noodwendig so sterk in die evangeliese been van die Christendom nie, maar daar is tog ’n kans dat mens met die volgende kan assosieer:

Mens is dol oor Jesus se lewe en het nuwe waardering vir die Drie Eenheid, maar (soms) dryf die Christendom jou teen die mure uit.

Toe van ons kinders was, het ons ons "harte" vir die Here gegee, maar vandag wonder mens oor die res van die mens. Dié "hartsoorgawe" het antwoorde belowe op vrae wat toe nie gevra is nie en vandag laat dit ’n effens hol klank.

Wat dan as daar iets in mense se lewe gebeur, soos die ontydige afsterwe van ’n kind, wat jou geloof laat wankel. Is daar ruimte om "gebalde vuis hoog in die lug" na God te roep?

Kan ons met mekaar in gesprek tree oor die pendulum van sekerheid en twyfel? Is daar simbole wat ons help sin maak met dié pendulum?

Genadiglik is die Here by ons in hierdie proses van wonder en verwondering. Tydens die opening van ’n praatjie het Wilhelm Jordaan dit vir my die heel mooiste illustreer. Hy speel ’n stuk musiek wat begin met ’n kerkorrel en mens hoor die fynste aanduiding van ’n melodie. Ek het dié melodie as kind leer ken as "Liefste Madelein." Op ’n stadium neem die rook-hees stem van ’n saksofoon oor met baldadige bokspronge; die melodie nou op die agtergrond. Maar dan in die laaste dele van die musiekstuk, speel die orrel en die saksofoon saam aan die melodie en selfs na honderd keer se luister dryf dit my steeds na hoendervleis; twee oënskynlik onversoenbare instrumente maak hemelse musiek.

Die musiek in ons lewe van weet én soek; vraag én (soms) antwoord; rugdraai én oogkontak beur soms teen mekaar, maar tog werk dit saam om gelowiges te vorm. Daar was baie gelowiges deur die eeue wat saam gesoek het en daar gaan in die toekoms nog meer wees.

Vind ’n tuiste in die simbole van nagmaal en doop; deel met ander gelowiges die pad wat jy saam met God loop en hou aan om te bid en Bybel te lees. Vind sin en vreugde in die pad self.

Views: 174

Voeg Kommentaar By

Jy moet 'n lid wees van Lynnwood Gemeente om kommentaar te lewer!

© 2021   Created by NGL Admin.   Powered by

Promosies  |  Report an Issue  |  Terms of Service