In 2012 het Karin en ek die kans gehad om in Europa te gaan rondloop; Italië en Frankryk. Na so paar laat aande was ek gedaan vir die Franse TV want dit was presidentsverkiesing in Frankryk. Behalwe dit kan een mens ook net soveel van die Simpsons in Frans verteer. Met dié loop ons die volgende dag op soek na ’n radio, want ek onthou dat die BBC op kortgolf uitsaai. Die enigste een wat ons kon opspoor, kos ’n yslike R800,00, maar ek is lus vir bietjie radio en ons koop hom.

By die hotel aangekom, bestudeer ek die boekie van voor tot agter en my indruk van die radiotjie styg. Behalwe verskillende golflengtes, is daar die volgende fasiliteite beskikbaar: flits; noodlig; ’n slinger vir wanneer die battery pap raak (ek belowe, jy kan kom kyk); laaier vir jou selfoon en om alles te kroon is die radio spatdig. Die eintlike mikpunt is stappers.

Toe begin ek op kortgolf soek na die BBC sodat ek laat in die aande radio kan luister. Vir die wat nog nie op kortgolf gesoek het, verduidelik ek. Kortgolf, SW, het agt bane en elke baan is gelykstaande aan een FM baan. Gedurende die volgende twee uur hoor ek Duits, Italiaans, Spaans, Portugees, Arabies en ’n paar van die Slawiese tale (dis die tale wat ek vermoed het), maar geen BBC nie. Nadat ons navraag gedoen het, hoor ons dat die BBC nie meer op kortgolf in Europa uitsaai nie!

In Mat 16: 21 - 23 lees ons van Petrus en Jesus op wat op verskillende golflengtes was. Jesus maak gereed vir sy lyding in Jerusalem en bevorder sy nuwe wêreld wat handel oor liefde, verdraagsaamheid en versorging. Petrus klou steeds aan ’n aardse koninkryk waar Jesus aan die hoof staan van ’n nuwe bloeitydperk in die Jode se geskiedenis en hy wat Petrus is, is ’n belangrike man. Stel jou voor dat die Jerusalem Daily vir Petrus op die voorblad het met dié opskrif: "Van niets tot iets. Petrus (in groot rooi letters); van armlastige visserman tot topbestuur van die Joodse Raad." Palestinian Time kies vir Petrus tot persoon van die jaar!

Te dikwels is ons eie golflengte een van mag en gesag; oorheersing en onderdrukking. God se golflengte is sagmoedig en nederig. Sy golflengte is soms moeilik om te hoor te midde van die gedruis van ons besige lewe, maar wanneer ons daarop ingeskakel is, is die nuus sinvol en lewensverrykend. Meer nog, dit het ’n versorgende impak op ons omgewing.

T tyd: Skakel op God se golflengte in deur te kyk wat die Bybel sê; in gebed te vra wat die Here se wil is; wyse gelowiges se raad te vra; bewus te wees van die Skepper in en om ons.

Views: 100

Voeg Kommentaar By

Jy moet 'n lid wees van Lynnwood Gemeente om kommentaar te lewer!

© 2021   Created by NGL Admin.   Powered by

Promosies  |  Report an Issue  |  Terms of Service