Twee koppe is beter as een. Of dalk nie?

Twee koppe is beter as een. Dit is ’n bekende Afrikaanse gesegde. Daarmee bedoel ons die saam(dink)werk van twee of meer mense lewer beter resultate as die (dink)werk van ’n enkele persoon. ’n Uitdrukking kry gewoonlik die status van ’n gesegde as dit dikwels herhaal word en wyd gebruik word. Sulke gesegdes maak aanspraak op algemeen-geldende waarheid.

 

Maar is twee koppe beter as een? Nie volgens die skrywer Susan Cain nie. Cain is die skrywer van die boek Quiet: The Power of Introverts in a World That Can’t Stop Talking. Dit is ’n goed-nagevorste en lesenswaardige boek waarby, soos die tema aandui, sogenaamde introverte veral baat sal vind. Sy verduidelik onder andere wat introversie (in onderskeid van ekstroversie) is, hoe en waarom die samelewing ekstroversie bevoordeel en bevorder, en die besondere bydrae wat introverte deur die eeue en vandag nog tot die samelewing maak.

 

Die opskrif van een van die hoofstukke in die boek is: When collaboration kills creativity. Die subtitel van die hoofstuk is veelseggend: The rise of the new groupthink and the power of working alone. Haar betoog is dat die samelewing groepwerk hoër ag as die werk wat deur die individu gedoen word. Daarom word groepwerk al hoe belangriker in skole (ook in die V.S.A.) en is dit die voorkeurwerkwyse in baie organisasies. Dit is dus ’n werkwyse wat die gesegde dat twee koppe beter as een is, onderskryf. Susan Cain bevraagteken egter hierdie “waarheid”. Sy haal in dié verband ’n ander skrywer met instemming aan wat met verwysing na Isaac Newton, ietwat tong in die kies, die volgende geskryf het: “… if you’re in the backyard sitting under a tree while everyone else is clinking glasses on the patio, you’re more likely to have an apple fall on your head.”

 

Cain behandel byvoorbeeld die werk van Osborne wie se teorie die weg gebaan het vir die ontstaan van dinkskrums. Daarna beskryf sy navorsing wat Osborme se teorie (en die gepaardgaande aannames oor die effektiwiteit van dinkskrums) verkeerd bewys. Sy kom uiteindelik tot die volgende slotsom: “… some forty years of research has reached the same startling conclusion. Studies have shown that performance gets worse as group size increases; groups of nine generate fewer and poorer ideas compared to groups of six, which do worse than groups of four.” Hierteenoor stel sy navorsing bekend wat daarop dui dat “… the more creative people tended to be socially poised introverts.” Introverte, mense wat verkies om alleen te werk, lewer meer kreatiewe bydraes!

 

So, daar het jy dit: Twee koppe is toe nie beter as een nie!

 

Bogenoemde is een van ’n magdom algemeen-aanvaarde “waarhede” wat deesdae bevraagteken word. Daar is nie meer “waarhede” wat veilig of heilig (in die sin van onaantasbaar) is nie. Selfs die groot geloofswaarhede word bevraagteken en uitgedaag. Dit maak ons ongemaklik en onrustig. Boeke soos die van Susan Cain maak ons egter bewus van hoe wollerig en gebrekkig die waarheidsaansprake wat deur die samelewing aanvaar word soms is. Is dit nie dan tog goed om ook ons geloofsaansprake te ondervra nie? Ons wil tog immers nie ons geloof, wat vir ons so belangrik is, op wollerige en twyfelagtige gesegdes bou nie?

 

Groete

 

Eric Scholtz

(Namens die predikantespan)      

Views: 785

Tags: Predikante

Voeg Kommentaar By

Jy moet 'n lid wees van Lynnwood Gemeente om kommentaar te lewer!

© 2021   Created by NGL Admin.   Powered by

Promosies  |  Report an Issue  |  Terms of Service