"Die mens van vandag is verslaaf aan kitsoplossings." Dit is die mening van Carl Honoré in sy boek "The Slow Fix". Kitskos moet binne 'n paar sekondes op die toonbank wees. Kitsresultate word verwag van sportspanne anders word afrigters afgedank. Kitsmiljoenêrs word op die voorblaaie van finansiële tydskrifte opgehemel. Politieke oplossings moet in 'n kits geskied. Dié kitsverslawing word bevestig daarin dat mense in Brittanje gemiddeld 40 000 pille in hulle lewens gebruik. Selfs op godsdienstige vlak word gesoek na die vinnigste geestelike groei en gemeente vernuwing. Die beste bewys van die verslawing aan kitsoplossings vind ek in myself.

Ek besef dat ek ook gereeld verval in die soeke na kitsoplossings vir uitdagings in my lewe en werk. Vandat ek die boek "The Slow Fix" opgetel het tot by die laaste bladsy het ek die weersin gevoel teen die beginsels in die boek, maar ek weet dat dit presies die waarheid is wat ek moet hoor.

Natuurlik is uitdagings verskillend. As 'n motor voor jou indraai help dit nie om eers mooi te dink en 'n stadige oplossing te soek nie. Dan is die ongeluk al lankal verby! Ons het dus wysheid nodig om te onderskei watter probleme wel dringende kitsoplossings verlang.

Die probleem is egter dat ons nie besef dat die meeste van die grootste uitdagings baie tyd, fokus en weldeurdagte optrede verg nie. Dit vra van ons om werklik baie energie aan goeie voorbereiding, nugtere denke, goeie beplanning en diepgaande insluitende prosesse te bestee.

Om byvoorbeeld 'n verhouding met jou kinders of huweliksmaat te herstel, gaan meestal nie in 'n kits gebeur nie. Om 'n maatskappy kultuur te verander vra weldeurdagte prosesse wat mense kan saamneem na die nuwe kultuur. Gemeentes wat wil vernuwe moet op die regte fondamente bou anders sal bouwerk wat op sand gebou is deur die golf van tyd vernietig word.

Die boek maak 'n sterk saak uit dat ons deeglik moet dink voor ons net inspring en doen. "Thinking is the hardest work there is, which is the probable reason why so few engage in it." het Henry Ford gesê. Selfs Einstein het gesê dat hy meestal 55 minute aan die probleem spandeer en net 5 minute aan die oplossing. Hy het ook gesê dis nie dat hy eintlik slimmer as ander mense is nie, hy bly net langer werk aan die probleme.

Wat is tans groot uitdagings in jou lewe en werk? Dink oor die manier waarop jou ongeduld en instink om dinge te forseer soms juis die rede is dat jy die teendeel bereik. Soos wat die Wit Haas in Alice in Wonderland sê: Dont just do something, stand there! Stop en dink mooi. Werk aan prosesse wat meer permanente en dieper vernuwing bring.

Dalk is die belangrikste gawe om voor te vra: geduld! "To do nothing at all is the most difficult thing in the world, the most difficult and the most intellectual." - Oscar Wilde. Kyk en luister wyd sodat jy self ook in die proses verander word en nie nét werk om almal om jou en die situasie te verander nie.

Die afgelope week was dit die Algemene Sinode van die NG Kerk. Baie van die moeilike sake dink ek kan nie net met 'n towerstaf en 'n briljante besluit reggetoor word nie. Ons het baie tyd in stilte, oordenking, gebed en luister na mekaar nodig.

Die samelewing beweeg met 'n groot spoed soms ten koste van menswees. Dalk is dit gepas dat die kerk leer by die wêreldwye "Slow Movement: slow food, slow cities, slow work, slow sex, slow education, slow parenting, slow design, slow travel en slow art".

Ek weet dat dié boek se uitnodiging teen baie dele van my persoonlikheid skuur, maar ek besef daar is diep rykdomme om elke moment van elke dag, as ek daaraan die gefokuste tyd en aandag gee wat dit verdien.

T-TYD

Onthou ons T-TYD beteken teenwoordig tyd. Ons moet oefen om voluit teenwoordig te wees waar ons is en nie net met ons gedagtes in die toekoms in te spring nie. Gebruik vandag se T-TYD om vir 'n rukkie intensioneel te breek met die spoed van die dag en die samelewing. As jy 'n koppie tee of koffie kan maak, nog beter. Sit iewers rustig en wees teenwoordig waar jy sit. Voel die stoel, die rus en proe die tee!

Neem nou een van jou grootste uitdagings en dink daaroor na. Benader dit van verskillende kante af met 'n rustige ingesteldheid wat bewus is dat God teenwoordig is in al die prosesse.

Lees gerus Fil 1:9 en Kol 1:9 wat die punt van wel deurdagte denke onderstreep. "Moenie net daar doen nie, sit net op iets!" Groete! Immanuel van Tonder (namens die Predikantespan)

Views: 372

Tags: Predikante

Voeg Kommentaar By

Jy moet 'n lid wees van Lynnwood Gemeente om kommentaar te lewer!

© 2021   Created by NGL Admin.   Powered by

Promosies  |  Report an Issue  |  Terms of Service