Wie is jy boem, boemelaar?

 

Pastorieë trek sluipslapers, bosbewoners en werkloses sonder weerga aan.  Gun my ’n skrale uur in die voortuin en iewers gaan daar iemand opdaag wat van Polokwane op pad is na Die Baai, want hy het gehoor dat daar werk is en of ek hom nie net met ’n paar honderd kan las nie; vir die treinkaartjie sien.  En terwyl ek dan nou beplan om ’n persoonlike lening uit te neem om die persoon te help, is daar nie ’n moontlikheid van bietjie filterkoffie nie – die Bybelstudie dames praat dan so oor die dominee se lekker Duitse koffie (met room en bruinsuiker in natuurlik).  Ja nee, kyk, op die boemel-radar slaan pastorieë groot, rooi, uitnodigende kolle uit.

 

Sommige is voorbarig met hulle versoeke en ander het al jare geoefen aan hulle Martin Martel of Sannie Swaarkry gesiggie.  Daar is veral een karnallie wat al die mense in die omgewing omtrent in ’n ander bloedgroep in gevloek het wanneer hy nie geld uit jou kry nie.  Die betrokke vabond is ongelukkig ’n uitgevrete lummel, anders het iemand hom seker al ’n drag slae gegee.  Selfs ’n blinde man met ’n stomp stok kan aanvoel dat van die verhale leuens is, soos die een dame wat oor die interkom verduidelik het dat haar pa pas vir haar en haar ma uit die huis geskop het en dat hulle met R80,00 plek in ’n “shelter” naby haar skool kan kry, want môre is dit weer skool toe en sy wil nie soos haar ouers opeindig nie en ek kan sommer die huishulp met die geldjie uitstuur.  Toe ek uitstap, sien ek dat sy iewers in ’n vorige bedeling laas op skool was, “maar die R80,00 sal steeds goed aangewend word, vir die ‘shelter’ natuurlik”.  Dis toe dat ek en Immanuel aanbied om hulle na die “shelter” te neem omdat ons weet waar dit is ... Nooit weer gesien of gehoor nie.

 

Wat maak mens dan is sulke gevalle?  Want daarmee kry ons almal te doen.  So met die tyd het ek vir my die volgende riglyne saamgestel (ek slaag selfs daarin om van tyd tot tyd daarby te hou):

  • Hanteer die persoon menswaardig.  Los die verwyte en as die situasie reg is, kan mens na die verhale (liegstories in sommige gevalle) luister;

  • Gee met groot omsigtigheid geld, maar vrygewig kos en ou klere;

  • Veral wanneer mens lank op ’n plek woon, ken jou kliënte.  Daar is gewoonte bedelaars, maar die verhale verander tog, veral as daar sprake van alkohol is;

  • Ken jou bure in die verhale (veral die pastoriebewoners);

  • Hou jou eie veiligheid hoog op die agenda, veral as jy alleen is;

  • Dit is nie noodsaaklik om jou aan bakleierige bedelaars bloot te stel nie;

  • Verneem of daar ’n maatskaplike werker in die omgewing is, wie raad kan gee rondom “shelters” in ons stad.

     

Stuur gerus vir my ’n e-pos met verhale (en raad) rakende julle residensiële boemelaars.

 

Views: 374

Tags: Predikante

Voeg Kommentaar By

Jy moet 'n lid wees van Lynnwood Gemeente om kommentaar te lewer!

© 2021   Created by NGL Admin.   Powered by

Promosies  |  Report an Issue  |  Terms of Service